Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Lied van die Kinders" deur LINA SPIES
"Lied van die Kinders" deur LINA SPIES [boodskap #19419] Sa, 28 November 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
LIED VAN DIE KINDERS
Lina Spies

"Laat die kindertjies na my toe kom"
Die Joodse seuntjie
wat sy armpies in die lug steek
voor die SS,
sy oë wyd gerek,
op sy mou die groot, geel Dawidster.

"Laat die kindertjies na my toe kom"
Die Vietnamese dogtertjie
oumens-krom aan haar stok geklem
op die slagveld heen en weer
terwyl oor haar bors
'n kruisie hang.

"Laat die kindertjies na my toe kom"
Die klein vergete Ier
op 'n sypaadjie in Belfast
tussen die bloed en bomme
wat opnuut sy land vrymaak.

Laat die kindertjies van Israel na My kom,
gevang in die kruisvuur by Ma'alo -
bang hasies in 'n bos wat brand.
Laat hulle kom, die gevreesde koningskinders van my volk
wat die Romeine doodgesteek het
toe in 'n stal se stank van mis en bloed,
ek self die Kind van Betlehem was.

Verhinder hulle nie
Herodes
dissipels
soldate
grootmense

Hulle hoort in my koninkryk:
hulle weet van wonde
sonder om te twyfel of te vra.

Laat hulle kom
kinders van Dachau
kinders van Korea
kinders van Saigon

Ek sal hulle teen my sy vasdruk
en my hande op hul lê.
Vorige onderwerp: "Hooglied" deur LINA SPIES
Volgende onderwerp: "Onverklaarbare" deur LINA SPIES
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 11:09:00 MGT 2024